Zelensky sê VSA-hulp kan uitkoms van oorlog verander

Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê hy glo nou dat sy land ʼn oorwinning teen Rusland kan behaal. Dit volg nadat die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers die langverwagte militêre hulppakket goedgekeur het. Die hulp sluit waarskynlik lugverdedigingstelsels, middel- tot langafstand-missiele en artillerie-bomme in. Die hulppakket word hierdie week na die Senaat gestuur voordat president Joe Biden dit onderteken. Zelensky sê indien Oekraïne die regte wapens kry, kan dit die situasie in die voorste linies verander.