Zelensky sê stappe teen korrupsie die week bekend

Oekraïne se President Volodymyr Zelensky, sê belangrike besluite sal hierdie week geneem word in ‘n poging om korrupsie uit te roei. Volgens internasionale nuusagentskappe kom dit te midde van bewerings van korrupsie op senior vlak, insluitend ‘n verslag oor twyfelagtige praktyke in militêre verkryging. Dit ten spyte van amptenare se pogings om eenheid te bevorder om die inval teen te staan. Zelensky het onthul dat ‘n adjunkminister afgedank is ná ‘n ondersoek na bewerings dat hy omkoopgeld aanvaar het. Die Europese Unie het hervormings teen korrupsie as ‘n belangrike vereiste vir Oekraïne se lidmaatskap gestel nadat die land verlede jaar kandidaat-status gekry het.