Zanu-PF teiken nou drukkerye
Die Zimbabwiese aktivis en joernalis Hopewell Chin’ono sê die regering konfiskeer nou drukkers en rekenaars en beskuldig drukkerye daarvan dat hulle pamflette vervaardig wat betogings aanmoedig. Lasbriewe is uitgereik vir beslaglegging by JivE Studios, ‘n drukkery in die land. Selfone is ook afgevat. Dié onderdrukking hou verband met die komende SAOG-beraad in Harare en Mnangagwa se aanvaarding van die SAOG-voorsitterskap. Menseregte-organisasies, soos Amnesty International en Human Rights Watch, het ‘n beroep op die Zimbabwiese regering gedoen om hierdie massiewe onderdrukking van onenigheid te beëindig en alle individue wat arbitrêr aangehou word vry te laat. Die Katolieke Kerk het ook ‘n brief uitgereik waarin die Zimbabwiese regering gevra word om menseregte te respekteer.