Zambiese owerhede ontbloot reuse-internetsindikaat
’n Gesofistikeerde internetbedrogsindikaat is in Zambië ontbloot, wat gelei het tot die arrestasie van 77 mense, insluitend 22 Chinese burgers. Dit was ‘n beduidende deurbraak in die stryd teen kubermisdaad, het die owerhede gesê ná ‘n multi-agentskap-klopjag op ‘n Chinese maatskappy, Golden Top Support Services. Die BBC berig dat die firma jong Zambiërs in diens gehad het wat geglo het dat hulle inbelsentrum-agente sou wees. Onder toerusting waarop beslag gelê is, was toestelle wat bellers toelaat om hul ligging te verdoesel asook duisende SIM-kaarte. Die klopjag het gevolg op maande se intelligensie-insameling ná ‘n kommerwekkende toename in internetbedrogsake in Zambië.