Ysland gee lisensie vir jag van 128 vinwalvisse

Die regering van Ysland het te midde van wydverspreide kritiek teen die gebruik ‘n lisensie aan die land se enigste walvisvangsmaatskappy toegeken om 128 vinwalvisse te jag. Ysland, Noorweë en Japan is die enigste drie lande wat ten spyte van kwaai teenkanting deur diereregte-aktiviste kommersiële walvisvangste toelaat. Die regering sê in ‘n verklaring die nuwe lisensie is geldig vir die 2024-seisoen en magtig die jag van 128 vinwalvisse, minder as die 161 in die vorige jaar. Die vinwalvis is naas die blouwalvis die langste see-soogdier.