Youngs reg soos ‘n roer na hartchirurgie

Rugby: Engeland se speler met die meeste toetse, Ben Youngs, hoop om fiks te wees wanneer die nuwe Premierskapseisoen in September afskop. Dit volg nadat hy onthul het hy moes ‘n hartoperasie ondergaan nadat hy tydens ‘n oefensessie vir die Leicester Tigers inmekaargesak het. Die 34-jarige skrumskakel sê hy het vroeër die jaar sulke episodes gehad en hy is eers later met onreëlmatige hartklop gediagnoseer. Youngs sê hy sterk goed aan na die operasie wat ‘n 90-persent sukseskoers het. Die veteraan van 127 toetse het na verlede jaar se Wêreldbeker uit internasionale rugby getree.