Wildmisdaad: Drie nuwe sake gemaak, een afgehandel

Die omgewingsministerie se jongste weeklikse wildmisdaadverslag dui aan dat drie nuwe oortredings aangemeld is met sewe verdagtes agter tralies. Een saak is in die hof afgehandel met Salomon Thase, ‘n Namibiese burger wat ‘n boete van 2 000 dollar of ses maande opgelê is op Gobabis vir die stroop van ‘n vlakvark. Daar was drie dae tussen sy arrestasie en vonnisoplegging. In verband met die drie nuwe sake is drie mans op Karibib vas vir die stroop van ‘n bergsebra terwyl daar ook drie Namibiese mans gearresteer is op Opuwo vir die besit van vier vervalste renosterhorings. Die drie word aangekla vir die sameswering om ‘n ander persoon te oortuig om ‘n misdaad te pleeg. In die laaste geval is een Namibiese man gearresteer op Rundu vir die besit van ‘n ietermagô-vel. Gedurende die periode sê die ministerie het 22 ander wildmisdaadsake voorgekom.