Wildlewe-getalle neem nie af nie, inteendeel…, sê Shifeta

Die Namibiese minister van omgewingsake Pohamba Shifeta sê berigte vanuit Suid-Afrika, dat die land se gemeenskapsbewaring-program in duie stort omdat talle spesies se getalle skerp daal, is snert. Daily Maverick het berig dat getalle van olifante, leeus, sebras en gemsbokke in die Noorde afneem, en dat gemeenskappe wat betrokke is by die programme in bewaringsgebiede slegter af is as voor onafhanklikheid. Volgens Shifeta is daar in werklikheid uitdagings omdat getalle van diere, veral olifante, toeneem en druk plaas op die drakrag wat na konflik met gemeenskappe lei. In sy mening is die gemeenskapsbewarings-program steeds ‘n sukses al is daar uitdagings met konflik met wilde diere, en natuurlike verskynsels soos droogtes. Namibië word internasionaal geloof vir dié program wat eienaarskap van wildlewe aan die inheemse bevolking toestaan.