Patel: Handel tussen Brics-lande floreer
Die Suid-Afrikaanse minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, sê Brics-lande het oor die laaste twee dekades beduidend gegroei. Patel sê die lande is verantwoordelik vir 27 persent van die wêreldwye uitset. Hy sê talle lande stel om dié rede daarin belang om by die groep aan te sluit, met hulle handel te dryf of om by hulle te belê. Patel sê Suid-Afrika het ook voordeel getrek uit handel met sy Brics-vennote. Hy sê die waarde van handel tussen Suid-Afrika en ander Brics-lande is 1,3 duisend miljard Suid-Afrikaanse rand of 80 miljard Amerikaanse dollar. Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika is lidlande en die Brics-beraad word vandeesweek in Johannesburg aangebied.