Wetenskaplike data nodig om Stampriet-bekken te red

Die voorsitter van Sauma, Divan Opperman beklemtoon dat die verkryging van feitelike, objektiewe en wetenskaplik-gefundeerde bewyse uiters belangrik is en dat dit aan die regering verskaf moet word. Dit sal volgens hom help om die perspektiewe wat deur verskeie belanghebbendes aangebied word, te balanseer. Hy sê goedkeuring vir mynaktiwiteite is steeds net ’n handtekening vêr van die besoedeling van die land se enigste bron van vars drinkwater in die rooi Kalahari-duine. Hy sê die Russiese mynmaatskappy hou aan om rooskleurige prentjies op te tower van veilige mynaktiwiteite wat die omgewing in ag neem, terwyl werkloosheid verminder. Dit is volgens hom in skrille kontras met die risiko van besoedeling van drinkwater, gepaard met die verlies aan duisende werksgeleenthede, insluitend toerisme, landbou en die breë ekonomie.