Werkersdag herdenk terwyl werkers wag op minimumloon

Namibiese werkers sal op 1 Mei in Rundu in die Kavango-Oos-streek bymekaarkom om Werkersdag te herdenk. Die tema vir hierdie jaar is “Namibië se werkers verenig vir ekonomiese groei en ontwikkeling in die jaar van verwagtinge en daarna”. Dit is egter 34 jaar na onafhanklikheid en die land het steeds nie ’n nasionale minimumloon nie. Verlede jaar het werkersvakbonde teen die regering uitgevaar oor die stadige implementering daarvan. Arbeidminister Utoni Nujoma het toe aangekondig dat ‘n plan vir ‘n verwagte minimumloon van 18 Namibiese dollar per uur teen Maart vanjaar geïmplementeer sal word. Dit het nie gebeur nie. Kosmos 94.1 Nuus het met Job Muniaro, die sekretaris-generaal van die Nasionale Vakbond van Namibiese Werkers, oor die kwessie gepraat.