Wêreldindeks vir graanpryse styg… ons word geraak

Die maatstaf vir wêreldvoedselkommoditeitspryse het vir die derde opeenvolgende maand in Mei gestyg, aangesien hoër pryse van graan en suiwelprodukte die afname in kwotasies vir suiker en plantaardige olies oortref. Dit is volgens die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies se verslag wat vanoggend vrygestel is. Die graanprysindeks het vanaf April met 6,3 persent gestyg, aangedryf deur stygende globale koring-uitvoerpryse, wat toenemende kommer weerspieël oor ongunstige oestoestande insluitend in dele van Noord-Amerika, Europa en die Swartsee-streek. Mielie-uitvoerpryse het ook in Mei gestyg, opgestoot deur kommer oor produksie in beide Argentinië, as gevolg van die Spiroplasma-siekte en Brasilië, as gevolg van ongunstige weer. Namibiese huishoudings is uitgelewer omdat die meerderheid van ons grane vanjaar ingevoer moet word.