Wêreldhof reik lasbriewe uit vir Russiese weermagleiers

Die Wêreldhof het inhegtenisnemingslasbriewe uitgereik vir twee hooggeplaaste Russiese militêre leiers vir beweerde oorlogsmisdade in Oekraïne. Luitenant-generaal Sergei Ivanovich Kobylash en admiraal Viktor Sokolov word daarvan beskuldig dat hulle tussen Oktober 2022 en Maart verlede jaar verantwoordelik was vir ‘n missielveldtog gerig op die Oekraïnse energie-infrastruktuur. Die hof sê hulle is verantwoordelik vir oorlogsmisdade deur regstreekse aanvalle op burgerlikes, met buitensporige negatiewe gevolge vir hul slagoffers en dit kom neer op ‘n misdaad teen die mensdom.