Wêreld se oudste man sterf

Maroela Media berig dat die wêreld se oudste man, Juan Vicente Pérez Mora, in die ouderdom van 114 jaar oorlede is. Pérez, wat in 2022 deur Guinness World Records as die oudste man ter wêreld gesertifiseer is, is Dinsdag oorlede.
Venezuela se staatshoof, pres. Nicolas Maduro, het die nuus op die sosialemediaplatform X
bekend gemaak. Pérez is op 4 Februarie 2022 amptelik bevestig as die oudste lewende man, toe hy 112 jaar en 253 dae oud was.

Foto: Juan Vicente Pérez Mora (Foto: Jhonny PARRA/AFP)

Hy het 11 kinders gehad en in 2022 het hy reeds 41 kleinkinders, 18 agterkleinkinders en 12 agter-agterkleinkinders gehad. Pérez was ʼn boer en het as Tio Vicente bekend gestaan. Hy is op 27 Mei 1909 in die dorp El Cobre gebore en was die negende van tien kinders. “Op vyfjarige ouderdom het hy saam met sy pa en broers as landbouers begin werk en gehelp met die oes van suikerriet en koffie,” lui ʼn Guinness-verklaring van 2022. Pérez het later ʼn balju geword en was verantwoordelik vir die oplossing van grond- en familiegeskille, terwyl hy steeds in landbou betrokke was.