Wees-katjie gebruik vir N$13,5m se slenter

’n Bestuurder in Hongkong se modebedryf het 13,5 miljoen Namibiese dollar verloor in ‘n slenter na sy ‘n katjie uit Thailand wou aanneem. Die vrou, ‘n 58-jarige vise-president van ‘n modemaatskappy, het met die persoon in aanraking gekom en is meegedeel dat sy die katjie gratis kan ontvang, maar dat sy vervoer- en versekeringsfooie via kripto sal moet betaal. Sy het dit gedoen. Maar, sy is toe ingelig die katjie is dood tydens die vervoerproses. Terselfdertyd het ‘n ander naamlose individu wat hom as ‘n buitelandse bankwerknemer voorgedoen haar gekontak en gesê sy sal vergoed word vir die kat se dood met ‘n versekeringsuitbetaling van sowat 2,6 miljoen Namibiese dollar. Daar was net een vangplek: Sy moet nog ‘n betaling maak, hierdie keer as ‘n waarborg of administrasiefooi. Teen die tyd dat sy besef het dat die hele interaksie ‘n bedrogspul was, het sy 13,5 miljoen Namibiese dollar verloor. Die bedrieërs het natuurlik spoorloos verdwyn.