Weerdienshoofde afgedank oor verkeerde voorspelling

Hongarye se twee voorste weerkenners is afgedank oor ‘n verkeerde weervoorspelling. ‘n Spesiale geleentheid was oor die naweek gereël en dit sou Europa se grootste vuurwerkvertoning gewees het om die land se nasionale vakansiedag St. Stephen’s-dag te herdenk. Maar sewe ure voor die geleentheid begin het is dit vir ‘n week uitgestel omdat die weerdiens storms voorspel het. Die storms het nooit gekom nie. Die reënstorm wat die diens voorspel het, het van rigting verander en dele van Oos-Hongarye getref en die hoofstad Budapest heeltemal gemis. Die diens het ‘n openbare verskoning op hul Facebook-blad geplaas en verduidelik dat die mees onwaarskynlike uitkoms gebeur het, en dat onsekerheid deel is van weervoorspelling. Maar dit was te laat. Die twee hoofde is met onmiddellike effek afgedank.