Weeluise laat Franse regering kopkrap
‘n Besmetting van weeluise is nog steeds besig om amok te maak in Frankryk. Die land se onderwysminister, Gabriel Attal, sê hulle is gedwing om gister sewe skole te sluit weens kommer oor die infestasie. Die Franse regering het vandeesweek ‘n reeks vergaderings gehou om die toenemende aantal gerapporteerde weeluisgevalle te ondersoek, op ‘n tydstip wanneer die land die Rugby Wêreldbeker aanbied en voorberei om volgende jaar die Olimpiese Spele in Parys aan te bied. Daar word geglo dat ‘n tiende van alle Franse huishoudings al die afgelope paar jaar ‘n weeluisprobleem ervaar. Die bloedsuiende insekte is in die Parys-metro, hoëspoed-treine en op Parys se Charles De Gaulle-lughawe opgemerk.