Water- en riviervlakke bly styg in die Noorde

Die Namibiese Hidrologiese Dienste sê die watervlakke in die sentrale en oostelike gebied van die Cuvelai-iishana styg steeds weens aanhoudende swaar reënbuie in die Noorde en Angola oor die naweek. Die dienste waarsku dat die oorstromings kan vererger as nog reën in die Cuvelai-opvangsgebied voortduur.  Volgens die jongste vloedbulletin het die Zambezi-rivier se vlak by Katima Mulilo met 25 sentimeter gestyg tot 1,6 meter wat hoër is as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Die Okavangorivier se vlak styg ook en staan op 4,48 meter by Rundu. Die Kunenerivier loop teen 149,2 kubieke meter per sekonde. Die Benede-Oranjerivier se vlak staan op 1,74 meter.