Washington moet keer dat Israel Iran se olie teiken
Golfstate vra Washington om Israel te keer om Iran se olieterreine aan te val, het drie Golfbronne aan Reuters gesê. Hulle is bekommerd dat hul eie oliefasiliteite onder skoot kan kom van Teheran se bondgenote as die konflik eskaleer. Golfstate insluitend Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Katar weier ook dat Israel deur hul lugruim vlieg vir enige aanval op Iran. Tydens vergaderings vandeesweek het Iran gewaarsku dat as die Golfstate hul lugruim vir Israel oopstel, dit ‘n oorlogsdaad sal wees. Israel het belowe dat Iran sal boet vir sy missielaanval verlede week, terwyl Teheran gesê het dat enige vergelding met groot vernietiging beantwoord sal word, wat vrese laat ontstaan vir ‘n groter oorlog in die streek.