Wanbetaler? NSFAF wend hom aan die hof vir beslaglegging

Die Namibiese Studente-hulpfonds NSFAF sê hy beplan om hofbevele te bekom om aftrekorders op die bankrekeninge van 88 640 debiteure wat die fonds 4,2 miljard Namibiese dollar skuld, te plaas. Op die manier word die fondse direk afgetrek deur middel van ‘n beslagleggingsbevel. Volgens The Brief, sê NSFAF dat sy amnestie, wat tot Junie vanjaar geld en alle rente en boetes afskryf, nie die gewenste resultate opgelewer het nie. Die amnestie sou 2,6 miljard dollar afgeskryf het maar die fonds sê wanbetalers kontak hom eenvoudig om nie op ‘n swartlys te kom nie, maar maak dan geen betalings nie. Die hoof van die fonds, Kennedy Kandume, sê die wanbetalers is in diens en besit bates, en dus is daar geen ander opsie as om hulle voor die hof te daag nie. Daar sal ook beslag gelê word op bates as hulle weier om te betaal. Kandume sê skuld aan NSFAF is nes enige ander skuld – dit moet betaal word.