Walvisbaai-munisipaliteit het byna N$109 miljoen nodig om Plaas 37 te diens

Die Walvisbaai-munisipaliteit het byna 109 miljoen Namibiese dollar nodig om porsies 10 en 11 van Plaas 37 ten volle te diens waar inwoners wat tans in informele nedersettings bly, hervestig sal word. Dit is volgens die raad in reaksie op ‘n mosie wat deur raadslid Saara Mutondoka ter tafel gelê is om dienslewering by Plaas 37 te bespoedig. Sy het verlede jaar die kwessie bespreek oor inwoners wat in onmenslike en onhigiëniese omstandighede in sinkhuise bly. Volgens ‘n opname in 2020 is daar 11 000 sinkhuise in Walvisbaai waar 34 000 mense in informele behuising bly. Die munisipaliteit het in Januarie aangekondig dat inwoners wat in onwettige strukture bly, dit voor 31 Maart moet verwyder.