VSA kondig sanksies teen Wagner-groepleier in Mali aan  

Amerika het sanksies aangekondig teen ‘n Russiese man wat vermoedelik die leier van die Wagner-huursoldategroep se operasie in Mali is. Volgens die Amerikaanse Tesourie is Ivan Maslov ook ‘n sleutelfiguur in Wagner se werksaamhede wêreldwyd. Die Wagner-groep help Mali se militêre regering al vir jare met sy stryd teen verskeie militantegroepe. Amerika voer aan dat die Wagner-groep moontlik sy teenwoordigheid in Mali gebruik om wapens en militêre toerusting vir Rusland se oorlog in Oekraïne te bekom. Amerika beskuldig die groep ook daarvan dat hy missiele aan die RSF-paramilitêre groep in die Soedan-konflik verskaf. Amerika het die Wagner-groep vroeër vanjaar as ‘n transnasionale misdaad-organisasie bestempel.