Vryhandels-ooreenkoms: Groot voordele of Afrika sal knou kry
Afrika se vryhandels-ooreenkoms, as dit suksesvol geïmplementeer word, kan ekonomiese groei aansienlik bevorder en lewenstandaarde verbeter in ‘n tyd van stygende geopolitieke spanning en klimaatsverandering. Dit is volgens die Internasionale Monetêre Fonds wat pas ‘n verslag in die verband bekend gestel het. Die fonds sê groter handelsopenheid sal lande help om by klimaatsverandering aan te pas en om voedselsekerheid te versterk omdat dit die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van voedselvoorrade sal verbeter. Die fonds het vroeër vandeesweek gewaarsku dat Afrika ‘n permanente ekonomiese knou kan kry as spanning die wêreldekonomie versplinter in opponerende handelsblokke rondom die VSA en China. Dit het beraam dat Afrika suid van die Sahara ‘n afname van 4 persent in die bruto binnelandse produk na tien jaar onder ‘n ernstige weergawe van hierdie bipolêre wêreld kan sien.