Vrou verwurg glo haar pasgebore baba op Karasburg

‘n Namibiese vrou van Aroab word van moord, die verberging van geboorte en regsverydeling aangekla nadat sy glo haar pasgebore baba op Karasburg vermoor het. Volgens die Namibiese polisie het die 33-jarige vrou by ‘n huis in die Lordsville-woonbuurt in Karasburg geboorte geskenk, die baba glo verwurg en die liggaam in ‘n bagasiesak onder klere versteek. Haar huismaat het onraad vermoed en het die polisie in kennis gestel. Na ondersoek is die lewelose liggaam van die baba versteek in bagasiesak gevind en tekens van verwurging is waargeneem. Die verdagte is tans in die Karasburg-staatshospitaal opgeneem waar sy mediese aandag ontvang aangesien sy baie bloed verloor het.