Vragmotorbestuurder in hof oor Namcor-diesel

‘n Vragmotorbestuurder, die 38-jarige Simeon Shilongo, is gearresteer in verband met die diefstal van byna 80 000 liter diesel ter waarde van byna 1,1 miljoen Namibiese dollar. Die diesel het verdwyn nadat dit by Namcor se stoor-fasiliteit in Walvisbaai gelaai is. Shilongo het in die Walvisbaaise landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal, bedrog en geldwassery. Die saak is uitgestel tot 28 Maart vir verdere ondersoek en hy is borgtog geweier. Daar word beweer dat Shilongo die diesel op twee geleenthede gelaai het en dit by ‘n uraanmyn se brandstof-depot moes besorg, maar dit nie gedoen het nie. Hy het na bewering die diesel na twee ander brandstof-depots in Walvisbaai geneem en dit verkoop. Volgens die polisie kon niks van die diesel teruggekry word nie, want dit was reeds gebruik. Nog verdagtes is geïdentifiseer en verdere inhegtenisnames word verwag, sê die polisie.