Vraghouer-terminaal by Namport word ‘geprivatiseer’

Namport het aangekondig dat hy sal begin met die proses van die voorgestelde konsessie van die nuwe vraghouer-terminaal in Walvisbaai aan ‘n onafhanklike operateur. Andrew Kanime, uitvoerende hoof van NamPort, sê die besluit kom as gevolg van die huidige dinamika in die skeepsvaartbedryf, wat aansienlik verskuif het. Kanime sê met die bedrukte makro-ekonomiese toestande wat nywerhede oor alle sektore negatief beïnvloed het met ‘n gepaardgaande afname in invoere en uitvoere, moet Namport sy uitgawes beter bestuur. Meeste verskepingsmaatskappye benut tans grooter vaartuie as deel van hul eie kosterasionalisering. Die kumulatiewe effek van hierdie onvoorsiene ontwikkeling was ‘n beduidende afname in die volume-deurset deur die nuwe houerterminaal. Kanime sê daar word verwag dat die operateur wat gekies word volhoubare volumes sal genereer.