Voormalige burgemeester met 16-jarige getroud…

’n 17-jarige skoonheidskoningin wat met ’n nou 66-jarige politikus getroud is, vier hierdie week hulle eerste huweliksherdenking.

Hissam Hussein Dehaini (66), die voormalige burgemeester van Araucaria (‘n munisipaliteit in die Brasiliaanse deelstaat Paraná), het vandeesweek ‘n jaar gelede (toe sy 16 was) met sy tienerbruid Kauane Rode getrou.

Foto: Instagram

Die hoërskoolleerling het in 2022 aan die Mej Araucária-kompetisie deelgeneem, in die tienerkategorie (vir meisies van 15 tot 17 jaar) en tweede gekom, maar sy het werklik eers bekendheid verwerf toe sy die knoop met die politikus deurgehak het.

Die egpaar het die afgelope jaar deurgeloop onder kritiek weëns hul onkonvensionele, maar nie onwettige, verhouding.

Foto: GMC

Dit het daartoe gelei dat die tienerbruid met hul eerste huweliksherdenking op Instagram ‘n skermskoot van die Google-resultate van haar en haar man se name gedeel het. ‘n Magdom artikels het verskyn met haar en haar man se naam in die opskrifte. Dehaini was ook in die spervuur, want volgens berigte het hy sy bruid se ma, ‘n dag ná die troue, tot ‘n toppos bevorder. Dit het talle inwoners die wenkbroue laat lig.