Volgende geslag kampioene vervang Groot Drie

Tennis: Die sport is besig om ‘n gedaanteverwisseling te ondergaan, met Jannik Sinner van Italië en Carlos Alcaraz van Spanje wat as die volgende geslag kampioene na vore tree. Sinner het vandag as die wêreld-nommer-een oorgeneem by Novak Djokovic van Serwië, wat die afgelope 20-jaar oorheers het saam met die Spanjaard Rafael Nadal en die Switser Roger Federer. Alcaraz het die Duitser Alexander Zverev gister in die Franse Ope geklop en dit was die eerste keer sedert 2004 dat een van die Groot Drie nie in die eindstryd was nie.