Voedselprysindeks daal internasionaal

Die Voedsel en Landbou-organisasie se voedselprysindeks, ‘n maatstaf van die maandelikse verandering in internasionale pryse van voedselkommoditeite, het in Mei vanjaar met 3 persent teenoor April gedaal, tot 124 punte. Die indeks is nou 22 persent laer as die rekordhoogtepunt wat in Maart 2022 bereik is, hoofsaaklik aangedryf deur die verswakkende pryse van die graan-, suiwel- en groente-olie-indekse. Hierdie prysneigings sal waarskynlik die impak van die stygende suiker- en vleispryse in die nabye tot medium termyn oorskadu en sodoende die indeks op laer vlakke hou. Suikertekorte dryf die prys van die kommoditeit hoër, saam met kommer oor hoe die ontwikkeling van die El Niño-verskynsel die jaar se oeste kan beïnvloed. Vleisprysstygings word gesteun deur die stewige vraag in Asiatiese lande na varkvleis en hoender wat gepaard gaan met aanbodbeperkings.