Voedselbystand krities in Kunene

Die Kunene-streek het groot uitdagings in verband met swak of geen reënval wat reeds ‘n paar seisoene duur. Die goewerneur, Marius Sheya sê die boere in die streek het reeds 90 persent van hul kuddes verloor en dus, is voedselhulp uiters belangrik vir die inwoners veral omdat talle bestaansboere is. Voedselhulp word in die streek versprei en dit sluit meel, olie, vis en soja in. Die eerste minister dr. Saara Kuugongelwa Amadhila se kantoor het reeds bevestig dat die hulp tot Mei volgende jaar sal duur maar, daar word op die oomblik ‘n bepaling gedoen oor waar nog nood is. Volgens Sheya het die Wêreldvoedselprogram ook ’n hulpprogram van stapel gestuur waarin begunstigdes ‘n koopbewys van 700 Namibiese dollar ontvang, vir drie maande. Die program bevoordeel tans 370 huishoudings in Khorixas, en so ook 370 elk in Sesfontein, Outjo en Opuwo.