VN waarsku oor hongersnood in Gaza

Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies waarsku dat die oorlog tussen Israel en Hamas die Palestynse gebied in hongersnood kan dompel. Diplomatieke pogings uit verskeie oorde is aan die gang om opnuut ‘n skietstilstand te bewerkstellig in die ergste oorlog ooit in Gaza nadat Hamas Israel in Oktober aangeval het. Die Veiligheidsraad is in onderhandelings gewikkel oor ‘n ooreenkoms wat die lewering van noodvoorraad sal bespoedig en toestande sal skep vir ‘n haalbare beëindiging van vyandighede. Die VN reken dat nagenoeg 1,9 miljoen van die bevolking van 2,4 miljoen mense in Gaza ontwortel is en dat meer as 20 000 mense in aanvalle dood is.