VN vra meer hulp, beskerming in Gaza 

Humanitêre werkers van die VN hoop nog 30 vragmotors met voedselhulp sal Noord-Gaza vandag kan binnegaan. Verspreidingspunte is steeds in bedryf in sommige gebiede maar Jabalia is onmoontlik om te bereik weens die voortgesette Israelse militêre offensief teen Hamas. Israel het gister 30 vragmotors met meel en voedsel van die Wêreld Voedselprogram in Gaza toegelaat. Volgens VN-werkers is die situasie desperaat met geen voorraad in skuilings nie, baie min kos en geen ondernemings deur Israel nie, om hulp by die 100 000 mense te kry wat in Jabalia vasgekeer is. Die VN-woordvoerder Stephane Dujarric vra vir beskerming van burgerlikes.