VN Veiligheidsraad vra vir politieke oplossing in DRK

‘n Afvaardiging van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het ná hul besoek aan die Demokratiese Republiek die Kongo ‘n oproep gedoen vir ‘n politieke oplossing vir die konflik tussen die regering en die M23-rebelle. Die rebellegroep wat hoofsaaklik uit Tutsi’s bestaan, het sedert einde 2021 groot dele van die provinsie Noord-Kivu in die DRK beset. Hulle beweeg intussen al nader aan die stad Goma op die grens met Rwanda en dreig om alle roetes na die stad te sluit. ‘n Wapenstilstand wat Angola onlangs in die DRK beding het, kon nie die gevegte beëindig nie.