VN-sekretaris-generaal vra vir skietstilstand in Soedan

Die sekretaris-generaal van die VN, António Guterres, het ‘n dringende oproep gedoen om ‘n skietstaking in Soedan. Minstens 27 mense is reeds dood in die geweld tussen regeringsmagte en paramilitêre groepe. Guterres het ‘n beroep op albei groepe gedoen om onderhandelings te hervat. Die regeringsmagte sê egter daar is geen ruimte vir samesprekings alvorens die RSF-groep ontbind is nie. Die weermag en die RSF-groep ding mee om mag te behou terwyl samesprekings tussen politieke groepe plaasvind oor ‘n oorgangsregering.