VN se Algemene Vergadering vra Gaza-wapenstilstand in nie-bindende resolusie
Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het ‘n resolusie oor die Gaza-krisis aanvaar, waarin ‘n onmiddellike, duursame en volgehoue humanitêre wapenstilstand gevra word wat tot ‘n staking van vyandelikhede lei. Die vergadering het 120 vir gestem, met 14, insluitend die VSA, wat teen dit gestem het, en 45 wat buite stemming gebly het. Die Oekraïne was onder die wat geen standpunt ingeneem het nie. Namibië het vir die wapenstilstand gestem. Die Palestynse ambassadeur het die aanvaarding van die resolusie verwelkom en sê dit bewys die wêreld ondersteun Palestina. Israel het die resolusie as bog afgemaak en sê die VN het geen relevansie meer nie. Die resolusie is belangrik maar, meer simbolies, omdat dit nie bindend is nie. Tot op hede kon die Veiligheidsraad geen beslissing maak nie.