VN-hoof neem deel aan bemiddeling in Soedan

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Antonio Guterres, gaan deelneem aan ‘n virtuele vergadering wat aangebied word deur die voorsitter van die Afrika-unie-kommissie, Moussa Faki Mahamat. Dit vorm deel van diplomatieke pogings om die geweld in Soedan tot ‘n einde te bring. Leiers van die Arabiese Bond en die streekgroepering Igad sal ook deelneem. Igad het die Presidente van Kenia, Djiboeti en Suid-Soedan aangestel as bemiddelaars vir Soedan. Die VN het vroeër gewaarsku dat Soedan se gesondheidstelsel op die punt staan om ineen te stort weens die voortslepende gevegte tussen twee militêre faksies.