VN bekommerd oor cholera-gevalle in Kenia
Die Verenigde Nasies is bekommerd oor tientalle choleragevalle wat in die vloedgeteisterde Kenia aangemeld is. Die dodetal weens die reën en vloede in die land het reeds tot meer as 250 gestyg. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê 44 cholera-gevalle is in die Tana-rivier provinsie aangemeld, wat een van die gebiede is wat die ergste getref is deur die weke lange reënstorms en oorstromings. Cholera is ‘n akute derminfeksie wat deur besmette kos en water versprei word en erge diarree, braking en spierkrampe veroorsaak. Dit kan veral gevaarlik wees vir jong kinders.