Visserman se boodskappe in bottels bereik talle
Die Bybelse uitdrukking, “werp jou brood op die water” is bewaarheid vir ʼn visserman van Nantucket in Amerika, wat tussen 2000 en 2006 honderde bottels met briewe daarin in die Groot Suid-kanaal in die Noordelike Atlantiese Oseaan gegooi het. Pennel Ames en sy gesin het ʼn tegniek vervolmaak om die briewe in die glas te bewaar en hulle het reeds meer as 80 antwoorde ontvang van mense wat dit gevind het. Die bottels het uitgespoel op plekke soos Europa, Florida, die Karibiese Eilande en die Kanarie-eilande.