Vierde verdagte in Monte Christo-roof vas

Nog ‘n verdagte in die gewapende roof van die Monte Christo-diensstasie is vasgetrek. Volgens die polisieverslag is die 24-jarige Namibiese man verlede Vrydag in Omalala-dorpie in die Oshana-streek in hegtenis geneem. Hy het die ondersoekbeamptes na sy huis by Engela Lashikolongondjo-dorpie geneem waar 58 400 Namibiese dollar in kontant teruggevind is, wat die verdagte aan sy ma gegee het. Daar is beslag gelê op items wat met gesteelde geld gekoop is, insluitend 22 stukke sinkplaat, drie sementsakke, ‘n sinkdeur, drie houtpale en ‘n teerpaal. Die bewysstukke is by die Ondangwa polisiestasie ingeboek en die ondersoek duur voort. Net minder as 790 000 dollar in kontant is gesteel tydens die roof in Windhoek se Lafrenz Nywerheidsgebied, en drie ander verdagtes is vroeër gearresteer.