Vier vas vir stropery van N$116 000

Vier vermeende stropers is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering gevind is by die Otjipaue-wildplaas in die Kalkfeld-omgewing met gedroogde wildsvleis in hul besit. Die polisie se woordvoerder die Otjozondjupa-streek, inspekteur Maureen Mbeha, sê die mans, 20, 24, 35 en 52 jaar oud, het blykbaar ‘n gemsbok op die plaas geslag. Daar word ook vermoed dat hulle twee sebras, ‘n koedoe en nog ‘n gemsbok op Plaas Ondombo gestroop het, met ‘n gesamentlike waarde van 116 000 Namibiese dollar. Die vermeende stropers het glo strikdrade gebruik om die diere vas te trek. Hulle sal na verwagting Maandag in die Otjiwarongo-landdroshof verskyn.