Vier vas vir die vervoer van beskermde wild sonder permitte

Die Hardap-polisie sê vier mans, drie Namibiese burgers, waarvan twee 37 jaar oud is en een 45, sowel as ‘n 29-jarige Suid-Afrikaner, is Woensdagaand net voor sewe-uur op die C15-grondpad tussen Stampriet en Gochas by ‘n mobiele padblokkade voorgekeer. Die mans het blykbaar wild vervoer, wat die polisie in sy verslag as 37 wildebeeste, blou en wit, beskryf, maar hulle het geen permit vir die diere gehad nie en kon ook nie ‘n redelike verduideliking gee vir hul besit van die diere nie. Een van die verdagtes is blykbaar ‘n bekende wildhandelaar en volgens wat Kosmos 94.1 Nuus kon bevestig, het die groep nog nie verskyn nie en dus kan hul identiteite nie bekend gemaak word nie. Die polisie sê die ondersoek duur voort.