Vier kinders vyf weke na vliegtuigongeluk in oerwoud lewend gevind

Vier kinders van ‘n inheemse gemeenskap in Colombië is lewend gevind – meer as vyf weke nadat die vliegtuig waarin hulle gereis het in die digte oerwoud neergestort het. Colombië se President Gustavo Petro sê die kinders is Vrydag deur die weermag gered naby die suidelike grens waar die vliegtuig neergestort het. Die Cessna 206-vliegtuig het sewe mense vervoer toe dit ‘n Mayday-waarskuwing uitgereik het weens ‘n enjin-onderbreking in die vroeë oggendure van 1 Mei. Drie volwassenes, insluitend die vlieënier en die kinders se ma Magdalena Mucutuy, is dood in die ongeluk en hul liggame is in die vliegtuig gevind. Die drie susters en broer, onderskeidelik 13, nege, vier en een jaar oud, het die ongeluk oorleef.