Vier Chinese in Usakos aangerand, beroof
Die Erongo-polisie rapporteer dat vier Chinese sakemanne omtrent 2-uur vanoggend in hul huis in Bo-dorp, Usakos deur vier mans oorval is. Die verdagtes het ingebreek en die mans met ysterpype aangerand en met ‘n pistool gedreig. Hulle het weggekom met 5 iPhones van 32 000 Namibiese dollar elk, 60 000 dollar in kontant, 3 000 Amerikaanse dollar en ‘n pistool. Die gesamentlike waarde van die gesteelde goedere is sowat 300 000 Namibiese dollar. Een van die verdagtes, ‘n 38-jarige inwoner van Windhoek is gearresteer en vier iPhones is teruggekry. Die ander drie verdagtes is nog soek. ‘n Saak van huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede word ondersoek.