Veteraan-uitsaaiers sit handjie by

Vandag is die amptelike bekendstelling van die Vereniging van Veteraan-uitsaaiers, ‘n inisiatief wat mees ervare stemme en tegniese kundigheid in die uitsaaibedryf bymekaar bring om die industrie te inspireer, op te lei en te mentor. Dit sluit mediapersoonlikhede en aspirantjoernaliste in. Die sameroeper van die vereniging, Kolie van Coller sê hulle erken die uitdagings wat jong en opkomende uitsaaiers vandag in die gesig staar, van tegnologiese vooruitgang tot ‘n toenemend mededingende omgewing. Deur middel van die vereniging wil hulle teruggee aan die bedryf en help om die toekomstige leiers van die bedryf te vorm.