Veteraan-bokke op die bank vir Bulle in VRK-halfeindstryd

Rugby: Die veteraan Springbokke, Bismarck du Plessis en Morné Steyn, is môreaand onder die Bulle se plaasvervangers vir die halfeindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap teen Leinster. Kurt-Lee Arendse is ook op die bank terwyl die jeugdige Canan Moodie weer op heelagter sal uitdraf. Volgens die Bulle se afrigter, Jake White, is Leinster die beste span in Europa. Hy het veral verwys na Sean Cronin en Johnny Sexton, wat hulle span onderskeidelik reeds 206 en 183 keer verteenwoordig het. Die wedstryd begin môreaand omstreeks half-nege.