Vervoernetwerk is kritiek vir vryhandel-sukses

’n Verbeterde vervoernetwerkstelsel vir Namibië en die res van Afrika is die belangrikste bydrae tot die Afrika-vryhandelsgebied se Agenda 2063-doelwit van ’n enkele mark vir goedere en dienste. Die minister van werke en vervoer, John Mutorwa, sê die belangrikheid van ‘n doeltreffende vervoernetwerk kan nie oorbeklemtoon word nie. Die Afrika-vryhandelsgebied is die wêreld se grootste nuwe vryhandelsgebied sedert die totstandkoming van die Wêreldhandelsorganisasie in 1994. Hy sê vervoer is die ruggraat van enige ekonomie en ministeries wat vir vervoer verantwoordelik is, is tegnies in staat om regerings-, streeks-, kontinentale en globale doelwitte te bereik maar, alle vervoermetodes moet werk. Dit sluit lugvaart, seevaart, pad en spoor in. Dit beteken Namibië vaar goed in drie uit die vier met die spoornetwerk wat dringend aandag nodig het.