Vertragings in Imalwa se kantoor, noodsaak terugtrek van korrupsie-klagte

‘n Vertraging in die besluit van die aanklaer-generaal oor korrupsie-klagtes het die hof genoodsaak om die klagtes terug te trek, maande nadat hulle gelê is. Die twee mans, Lance Hauuanga en Steven Namalemo is daarvan beskuldig dat hulle hulself as amptenare van die Teenkorrupsie-kommissie voorgedoen het en gepoog het om betaling van 1,5 miljoen Namibiese dollar by ‘n oud-amptenaar van die ministerie van myne en energie te bekom. Die twee mans is reeds op 26 Oktober verlede jaar aangekla. Hulle het blykbaar die amptenaar, Ralph Muyamba afgepers en sou hom nie arresteer as hy die betaling maak nie. Muyamba is geïmpliseer in die Xinfeng-debakel. Die aanklaer-generaal het die dossier op 31 Januarie vanjaar ontvang om ‘n besluit te maak na die twee onskuldig gepleit het.