Verstekvonnis van amper N$31m teen Teckla Lameck toegestaan

Die verstekvonnis van amper 31 miljoen Namibiese dollar teen die omstrede sakevrou en voormalige kommissaris van die staatsdiens, Teckla Lameck, is vanoggend in die mosiehof toegestaan. Daar word beslag gelê op ses eiendomme, drie in Okahandja, een op Grootfontein, een in Klein Windhoek en een plaas in die Otjozondjupa-streek. Bank Windhoek eis die geld na sy, haar man, haar maatskappy en familietrust op 2 Maart verlede jaar ‘n oortrokke fasiliteit van 29,55 miljoen Namibiese dollar van die bank ontvang het. Afbetaling is twee keer uitgestel. Luisteraars sal Lameck onthou vir die korrupsiesaak toe sy die openbare diens kommissaris was. Sy was deel van die Teko Trio en is in 2019 onskuldig gevind.