Versekeringseise stroom in ná kitsvloede in Windhoek

Namibië se korttermyn-versekeringsektor sal na verwagting getref word deur stygings in eise ná die erge skade wat verlede week se kitsvloede in Windhoek aangerig het. Volgens die Namibiese Finansiële Instellings Toesighoudende Owerheid, Namfisa, kan versekeringsmaatskappye ‘n toename in eise verwag. Johan Liebenberg van Satib Insurance Brokers het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat versekeringseise skerp weens die kitsvloede gestyg het en hy sê die skade is reusagtig. Talle geboue, huise en infrastruktuur, insluitend die Wernhil-winkelsentrum in Windhoek se sentrale sakekern, is verlede week beskadig, met alle winkels op die grondvloer wat onder water was.