Vermiste kleuter se oorskot in Franse Alpe gevind

Die oorskot van ‘n kleuter wat verlede jaar in Frankryk vermis geraak het, is gevind. Ondersoekers werk nou om vas te stel hoe die seuntjie gesterf het. Die twee-en-‘n-half-jarige Emile Soleil het op 8 Julie verlede jaar verdwyn terwyl hy by sy grootouers gekuier het. Twee bure het hom laas alleen gesien loop in ‘n straat in Le Vernet, in die Franse Alpe. Staatsaanklaer Jean-Luc Blachon sê dat genetiese toetse wys dat die beendere, wat deur ‘n stapper gevind is, die seuntjie se oorskot is. Die aanklaer het nie ‘n oorsaak van dood gegee nie, maar forensiese ondersoeke gaan voort.